|
|
|
|
|
Bosveld Dorperklub
Vegters vir die Ras in geharde omstandighede |
 |
 |

Tuisblad

Oor die Klub

Oor die Dorper

Kalender

Veiling datums

Veiling Resultate

Skou Resultate

Regulasies

Riglyne

Bestuurspan

Klublede

Nuusbriewe

Klubaansluiting

Dorper Kursus

Dorper Kliniek

Bosveld Winkel

Web Skakels

Foto Gallery

Kontak Ons

|
|
N PAAR RIGLYNE VIR RINGHANTEERDERS—
AANGEBIED DEUR RAYMOND READ: |
|
Met die skouseisoen op hande het ek dit goedgedink om ‘n paar skoutegnieke en ondervindings met die lede te deel. Ek beoordeel op baie skoue en ek kan werklik sê, die hanteerder is die helfte van jou sukses in die ring. Natuurlik is mooi funksionele en gebalanseerde skape ook belangrik, maar ‘n mooi skaap kan verkeerd vasgehou word en jou van ‘n waardevolle plek beroof. Net so kan ‘n ervare hanteerder van ‘n gemiddelde skaap ‘n kampioen maak.
Ons weet almal dat arbeid maar ‘n moeilike en duur faset van ons boerdery geword het. Die betroubare werkers wat al jare vir ons bygestaan het en ondervinding opgedoen het is nie meer so volop nie.Ek sien meer en meer telers op skoue wat net iemand vir die dag gehuur het om sy skape te kom vashou.Die werker het geen opleiding ontvang nie, vir baie is dit die heel eerste keer wat hy ‘n skaap sien, laat staan nog van vashou.
Dit is ‘n goeie idée om jou skoudiere al by die huis te leer om gehanteer te word. Baie diere is van nature mak, maar daar sal ook die wees wat net plein vol nonsens is. Dit is goed om sulke diere by die huis te identifiseer en hulle gereeld te hanteer, die skou sal dus nie vir hulle vreemd wees nie omdat hulle gewoond is aan die hanteerder. Diere wat springerig is kan op ‘n halter opgelei word, hulle word geforseer om agter die hanteerder te loop totdat hulle “luister” en hulle stories laat staan. Probeer om een hanteerder op spesifieke diere op te lei. As jy meer as een skaap per klas het, lei jou mense op om met sy eie individuele dier te “bond”.
Die vashou posisie
Onthou baie belangrik, die dier word tentoongestel, ons wil dus die mooiste vertoon posisie hê sodat die dier se beste eienskappe aan die beoordelaar getoon word.
Die basiese vashou posisie in die skouring is soos volg: Die skaap word met een hand onder die kakebeen vasgehou, naby die keel en sonder om hom te wurg , die ander hand kan agter die kop vashou as jy die skaap vorentoe of agtertoe wil beweeg, hulle raak dit gou gewoond.
As die skaap stilstaan dan is een hand genoeg om hom vas te hou, die ander hand kan gebruik word om die pote inlyn te bring , of om die skaap liggies onder die pens te krap om hom te kalmeer. |
| |
Die belangrikste is dat die dier vasgehou moet word in ‘n natuurlike posisie, hy moet dus gemaklik wees om so vasgehou te word. Party mense neig om die dier te ver uit te strek (soos ‘n saalperd) dit is onnatuurlik en die dier kan nie lank so staan nie. Die kop moet nie te hoog opgehou word nie, ook nie te laag nie, dit is onnatuurlik en kan ‘n hol rug of swak nekaansluiting oorbeklemtoon.
Die hanteerder moet geleer word om sy oë op die beoordelaar en ringbeampte te hou. As hy hulle mooi dophou dan kan hy weet wanneer hy sy dier op sy mooiste moet vertoon.
Hanteerders moet ontmoedig word om oor hulle skape te hang, of om hulle arms op die dier se lyf te laat rus-Jy wil die dier aan die beoordelaar wys en hy wil nie jou arm of die helfte van jou liggaam oor die dier sien hang nie.
Sorg dat jou liggaam nooit die van die skaap s’n versper as die beoordelaar na hom kyk nie. |
| |
In die foto hierbo kan duidelik gesien word dat die middelste skaap uitgestrek is soos ek beskryf het, die agterbene is te ver na agter. Hy staan in ‘n onnatuurlike posisie en die vashouer hou die skaap se kop omhoog. Die agterste skaap staan korrek en kan daar ook gesien word dat die hanteerder besig is om seker te maak dat die pote in lyn is. Let op na die spasie tussen die diere wat omtrent 30 cm moet wees.
Die posisie “ Van Voor af ”
Soms gaan die beoordelaar die ringbeampte vra om die skape na voor te draai sodat hy kan kyk na die skouer aanhegting, die borsprojeksie en die breedte van die voorkwart. Daar is ‘n spesifieke manier om dit maklik en korrek te doen. Ons wil seker maak dat die skaap se voorbene mooi egalig gespasieer is, nie te nou nie, en ook nie te wyd nie.
Die maklikste manier om dit te bewerkstellig is om (veral by ligte skape) is om jou regterhand onder die bors van die skaap te sit , hom op te lig sodat die voorbene van die vloer af is , en hom dan weer liggies neersit. Die bene sal in ‘n normale posisie weer op die grond wees en die spasie tussen die bene sal reg wees. |
| |
In hierdie geval hierbo is daar ‘n paar probleme te bespeur. Die ooitjie staan te breed voor en sal gepenaliseer word daarvoor. Haar agterbene is ook nie reg inlyn nie, sy staan dus ongemaklik. As die hanteerder net liggies haar voorkwart optel en weer neersit dan sal die bene vanself in ‘n mooi natuurlike posisie beland. Hy kan dan aandag skenk aan die agterbene om hulle weer mooi in lyn te kry.
Die “Draai Agter” posisie
Die beoordelaar wil kyk na die agterkwarte van die diere en hy wil hulle met mekaar vergelyk sodat hy die beste een kan voor plaas. As die dier miskien hakprobleme het, hulle draai in of uit, selfs bakbene, regop hakke of iets ernstigs dan kan ‘n bekwame skouman met kundigheid die dier so plaas dat die probleem op ‘n baie minder ernstige wyse vertoon word. Die beoordelaar sien dit miskien raak, maar dit vertoon nie vir hom te ernstig om die dier uit te gooi nie. As die beoordelaar regtig sy sout werd is dan sal hy wag en kyk as die dier loop om seker te maak dat die fout nie die skaap se loopvermoë affekteer nie. |
| |
Hierdie skouman weet dat sy skaap effens neig na regophakke. Hy sorg dat die agterbene bietjie meer onder die skaap staan en nie lank uitgestrek na agter nie, anders “lock” die bene en die skaap vertoon regophakkig.
Groepklasse
Groepklasse is wanneer skape van eenderse kwaliteit en eenvormigheid saam as groep geskou word, soos bv. Drie ramlammers, of Drie ooilammers, of Ram en ooi en Twee lammers. Ek weet van baie beoordelaars wat dink dit is regtig tydmors, maar vir my is dit DIE klas waar jy regtig die diepte en kundigheid van ‘n stoetteler kan raaksien. Die idée is om jou diere so na as moontlik na mekaar te laat lyk. Die beoordelaar kyk na 50 % eenvormigheid, en 50% kwaliteit, dit is moeilik om die twee bymekaar te bring.
As jy bv. drie eenvormige diere het van redelike stoetkwaliteit in die ring, teenoor drie diere waarvan twee hoogstaande diere is en een gemiddeld is, dan moet die eerste groep wen. |
| |
Hierdie is ongelukkig ‘n swak foto, maar ek kon nie een kry wat beter uitbeeld wat kwaliteit en eenvormigheid betref nie. Hierdie ooitjies weeg seker binne ‘n paar gram dieselfde , het heel waarskynlik dieselfde Pa, en hulle kom uit ‘n stoet waar die Baas definitief baie ooie het om sy skouspan uit te kies. Dit is ‘n werklik voortreflike groep.
Ons hoop regtig dat bg. Riglyne vir elkeen van jul sal kan help. Indien jy meer vrae het, kontak gerus die Bosveld Kantoor, en ons sal jul met graagte bystaan! |
|
|
|